GRAAFF-REINET NEWS — Die NG Nuwekerk in Caledonstraat, Graaff-Reinet, het so pas hul tema vir 2016 se derde kwartaal bekend gemaak.
Die kerk nooi enige persoon uit die gemeenskap om 'Op reis na vernuwing' saam met hulle te gaan.
Die kerk sal dié tema afskop dié Sondag, 14 Augustus en dit afsluit met 'n fees op 25 September.
JR Nieuwenhuizen, woordvoerder van die kerk, het die volgende hieroor te sê gehad, "Op hierdie reis van vernuwing gaan ons God se groot ontferming ontdek, gaan ons ontdek om vir God te gee wat Hy soek, gaan ons toelaat dat God ons verander, gaan ons onself ontdek tussen ander en ontdek ons ‘n nuwe lewe voor die Here en hoe om die bose te oorwin".
Belangstellendes word genooi om dié reis saam met die gemeente van die Nuwekerk mee te maak om sodoende 'n nuwe lewe saam met God en ander gelowiges te ontdek.
Besoek die Kerkkantoor op die hoek van Bourke- en Caledonstraat om meer hieroor uit te vind.
"Moet nie hierdie rit verpas nie, dit gaan ‘n reis van uitnemendheid wees." sluit Nieuwenhuizen af.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'