GRAAFF-REINET — Johan Jordaan, 'n geliefde inwoner van Graaff-Reinet, is Sondagmiddag, 17 Julie, op 46-jarige ouderdom in 'n motorongeluk oorlede.
Volgens inligting ontvang het, het Jordaan op die N9 vanaf Middelburg in sy Isuzu LDV gery toe hy beheer oor sy voertuig verloor het. Hy het toe met 'n boom en padteken gebots net voor die indraai na Caledonstraat.
Jordaan is op die toneel oorlede.
Jordaan is reeds 26 jaar 'n inwoner van Graaff-Reinet nadat hy hierheen verhuis het van Oos-Londen en was hy woonagtig op die plaas Linque net buite Graaff-Reinet.
Teen druktyd het boodskappe van skok en hartseer steeds op verskeie Facebook-bladsye ingestroom.
Jordaan sal onthou word vir sy humorsin en lekker lag, sy opregte vriendelikheid en die moedigheid waarmee hy elke faset van die lewe aangepak het. Sy kinders, Louise en Theo, was sy alles.
Sonette Meiring-Crouse, ’n boesemvriend asook familie-woordvoerder, sê die volgende, "Johan was 'n jolige man. 'n Groot man met 'n klein hart... 'n goeie hart. Hy was 'n gesinsman met hande wat vir niks verkeerd gestaan het nie. Hy word gemis."
Jordaan laat sy eggenote Jennifer, dogter Louise en seun Theo agter.
Daar word Donderdag, 21 Julie om 2nm vir hom 'n roudiens by die NG Grootkerk in Graaff-Reinet aangebied.
Wyle Johan Jordaan.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'