GRAAFF-REINET NUUS — By die kruising op die hoek van Middel- en Stockenstroomstraat in Graaff-Reinet bestaan daar tans ‘n groot nood vir stoptekens by dié vierrigtingstop.
Die padtekens wat die stop aandui is al 'n geruime tyd weg en is die stoptekens wat op die pad se teeroppervlate aangebring is, onleesbaar.
"Vier stoptekens het voorheen die verkeer vanuit elke rigting beheer - motorbestuurders wat nie bewus is van die stop nie, jaag nou uit alle rigtings oor die kruising, sonder om spoed te verminder", kla 'n bekommerde inwoner.
“Die kruising is ’n groot probleem en baie gevaarlik. Talle voetgangers en motoriste gebruik daagliks die pad. Die kans vir ’n ongeluk is groot en dit is ’n wonderwerk dat hier nog nie ’n ernstige ongeluk gebeur het nie, meen Graaff-Reinetter Elsa Loots.
Munisipale woordvoerder, Leolynn Smith, het by navraag gesê dat die munisipaliteit oor die die afgelope paar maande met skok agtergekom het dat padverkeerstekens moedswillig afgebreek word.
"Dit kom veral in die perdeskoen-area voor," sê Smith. "Sekere van die tekens kon herstel word deur die afgebreekte rondepyp weer vas te sweis, maar die voorraad ysterpyp wat beskikbaar was, is opgebruik."
Smith voer aan, "Sedert Februarie 2012 het die munisipaliteit begin om wyk-per-wyk in Kroonvale, Graaff-Reinet, Adendorp, Santaville, Asherville, Mandela Park, Aberdeen, Lotusville, Thembaliswe en Nieu-Bethesda straatnaamtekens op te rig en in Desember 2016, net voor die feesseisoen, was 'n gedeelte van Eunice Kekena Village ook met straatnaam en padverkeerstekens voorsien. Binne 'n paar weke, egter, was feitlik feitlik alle ysterpale met padverkeerstekens afgesaag."
"Padverkeerstekens se lewenstydperk is 15 jaar. Dit beteken dat die munisipaliteit nie elke jaar vir dieselfde areas kapitaal voorsiening kan maak nie as gevolg van ander projekte wat ook belangrik is." sê Smith. "Die inwoners word beleefd gevra om ons hand te versterk deur hierdie vandalisme te rapporteer en op die uitkyk te wees vir lede van die publiek wat padverkeerstekens ronddra of oplaai."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'