GRAAFF-REINET NUUS — Patrick Vuyisile Afrika, 'n Graad 3-leerder by Narsinstraat Primêr in Graaff-Reinet, is op 30 April tragies in 'n motorongeluk oorlede.
Twee ander leerders, Bejamin Oliphant en Althea Mathews, is tans kritiek maar stabiel in die Livingstone-hospitaal te Port Elizabeth.
Die skool het hul hartseer oor die voorval uitgespreek in 'n verklaring aan die Advertiser vroeër die week.
"In die klas was Patrick ondeund maar 'n plesier. Hy sou nooi iemand leed aandoen of met 'n maatjie lelik wees nie. Hy wou altyd net speel en kattekwaad aanvang. Patrick sal onthou word vir sy ondeunde gesiggie en laggie. Hy het vinnig diep in ons harte gekruip en sal hy geweldig gemis word," se Trevor Moos, namens die skool in die verklaring."
Die verklaring lui verder, "Patrick, vandag is jy nie meer met ons nie maar in die Hemel by jou ewige tuiste waar daar geen hartseer of pyn is nie. Jy is waar daar liefde, mooi en strate van goud is. Nou regtig ‘n Jesuskind. Ons is nie reg om jou te laat gaan nie, maar God het anders besluit. Jou plekkie is leeg, jou stem en laggie is stil maar in ons harte sal jy altyd bly. Gone but not forgotten. Rus in Vrede."
Die gedig 'Die gebreekte ketting' is deur die skool in die verklaring opgedra aan Patrick:
Ons het daardie oggend glad nie geweet dat God jóú naam sou sê nie.
Ons het nog nooit opgehou om vir jou lief te wees nie.
Dit het ons harte gebreek om jou te laat gaan, maar jy het nie alleen gegaan nie;
‘n deel van ons is saam met jou, daardie dag toe God jou huis toe geroep het.
Jy het vir ons vreedsame herinneringe agtergelaat, jou liefde is nog steeds vir ons ‘n gids.
En selfs al kan ons jou nie meer sien nie, weet ons jy is altyd hier by ons.
Die ketting is gebreek en niks is meer dieselfde nie, maar soos God ons één vir één roep,
sal die Skakel ons weer aanmekaar haak.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'