GRAAFF-REINET NUUS — Die Graaff-Reinet Museum, soos alle museums regoor die wêreld, vier vanjaar weer Internasionale Museumdag op 18 Mei met die fokus op Museums en omstrede geskiedenis.
Hierdie tema, wat elke jaar deur ICOM, Die Internasionale Raad van Museums, gekoördineer word, vorm die basis van gemeenskapsprogramme en projekte wat gedurende Mei-maand in museums van stapel gestuur word.
Hierdie jaar tree die Graaff-Reinet Museum as gasheer van museums in die Sarah Baartman-distrik op en word alle belangstellendes genooi om die Graaff-Reinet Museumkompleks gratis te besoek. Dit sluit Reinet Huis, Die Ou Biblioteek, Die Ou Residensie , Urquharthuis en die Militêre Geskiedenis Museum, in.
Die Graaff-Reinet Museum, in samewerking met die Departemente van Opvoedkunde en Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur het alreeds in April 2017 ’n opstelkompetisie vir hoërskoolleerders geloods waarvan die wenner op 18 Mei aangekondig sal word.
Die wenner van die opstelkompetisie loop met wonderlike pryse weg wat onder andere ’n skootrekenaar insluit. Leerders van die Dr. Beyers Naudé Munisipaliteit verneem gerus by julle skool hoe om aan die kompetisie deel te neem.
Slegs een inskrywing per skool word toegelaat. Die wenner sal ook die distrik by die provinsiale byeenkoms wat later in Mei in Sterkspruit gehou sal word, verteenwoordig.
Vir verdere navrae kontak die hoof van die Graaff-Reinet Museum, Anziske Kayster, by tel: 049 8923801.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'