GRAAFF-REINET NUUS — Familie en vriende van PJ Nortier het Saterdag, 13 Augustus, hul laaste eer aan hom betoon tydens ‘n roudiens by die Bikers Church in Port Elizabeth.
Nortier is voor-verlede Woensdag, 3 Augustus, na 'n kort siekbed oorlede.
Nortier, alom bekend as Pietie, het sewe jaar gelede na Graaff-Reinet verhuis vanaf Umtata waar hy tot en met sy afsterwe die populêre Lemon Tree-restaurant in Mullerstraat bedryf het.
Nortier - ’n gemeenskapsman wat uit sy pad gegaan het om ander by te staan - het gedurende sy jare op Graaff-Reinet diep spore in dié gemeenskap getrap. Hy het onder andere met tye rugby afgerig, rolbal gespeel en was hy lid van die plaaslike Afrikaanse klub vir mans.
Nortier sal onthou word as ’n man wat altyd ’n glimlag op sy gesig gehad het en word hy beskryf deur diegene wat hom goed geken het as "energiek, vriendelik en joviaal".
Nortier word oorleef deur sy dogters Yolandy, Tania, Melinda en Melanie sowel as sy ses kleinkinders.
"Ons bedank graag almal wat ons bygestaan het met sy skielike heengaan. Die plaaslike ambulaansdiense, dokter en predikant vir die goeie diens gelewer, sowel as alle vriende en kennisse vir die gebede, boodskappe en oproepe," sê Rensche Alberts. Sy voer aan, "Dit word opreg waardeer."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'
• Alberts en Nortier se dogter Tania, sal voortaan die Lemon Tree bedryf en probeer voortbou op Nortier se nalatenskap.