GRAAFF-REINET – Die dorp se heel eerste straatmyl - aangebied deur die Graaff-Reinet Running Club - het alle verwagtinge oortref.
Vrydagaand, 8 April, het belangstellendes hul weg gemaak na die parkeerarea by Burger Inn in Collegeweg waar daar reeds van vroeg af ‘n see van Graaff-Reinetters - oud en jonk - ‘n mens begroet het.
Almal was kleurvol getooi om by die neontema in te pas en het Jac Grobbelaar van Jac Grobbelaar Photography and Design alles deur sy kamera se lens vasgelê met ‘n fotohokkie waar deelnemers voor die kamera in hul uitrustings kon pronk.
Diegene wat besluit het om deel te neem, het geen moeite ontsien om hulself in al wat ‘n denkbare kleur en neon paraphernalia is, aan te trek nie.
Die 1.6km straatmyl het in Graaff-Reinet se hoofstraat vanaf Burger Inn tot en met Dercksen & Vennote se kantore gestrek.
Die deelnemers het net voor 6nm aangetree in ‘n baan wat deur die verkeersdepartement afgesper was om die myl te begin en teen 6.30nm het die laaste deelnemer oor die eindstreep getrap.
Die deelnemers het in drie groepe meegeding: die ernstige atlete wat rekordtye wou opstel, die dorp se skoliere en dan ‘n groep bestaande uit families en vriende wat kuierkuier die myl wou voltooi.
Die wenners onder die ernstige atlete was Sipho November met ‘n tyd van 4 minute en 01 sekondes, gevolg deur Maurice Japhta in die tweede plek, Henk Fischer in die derde plek, Jan Fick in die vierde plek en Eric Foendien in die vyfde plek.
Onder die dames het Madel Piek as wenner uitgetree in ‘n tyd van 6 minute, gevolg deur Alecia Cawood in die tweede plek, Sumene Fourie in die derde plek, Malinda Piek in die vierde plek en Marolene Botha in die vyfde plek.
Na afl oop van die myl, is daar by Karoo Trade in Kerkstraat deur van die dorstiges saamgedrom om die nodige lafenis na so ‘n geleentheid te geniet.
Die organiseerders is in vervoering oor die ondersteuning wat die geleentheid geniet het - daar was altesaam 240 deelnemers wat die klub se grootste verwagtinge oortref het. Die byeenkoms het ook toeskouers gelok en het die personeel van Engen, Spur en Nommerpas die hoofstraat belyn en die atlete met hul applous tot by die wenpaal gedra.
“Ons bedank graag al die deelnemers vir hul goeie gees sowel as die Graaff-Reinet-gemeenskap vir hul aanmoediging van die atlete.” sê Elise Steynberg van die Graaff-Reinet Running Club. “Ons beplan om meer sulke familie-geleenthede te hou.”
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet nuus'