GRAAFF-REINET NUUS — Die pas afgelope Saterdagaand, 15 April, het die plaaslike tak van die Christelike Maatskaplike-raad 'n gesellige aand saam met die bekende Suid-Afrikaanse akteur Pierre van Pletzen aangebied.
Pierre van Pletzen het bekendheid verwerf vir sy rol as Septimus van Zyl (Oom Oubaas) in SAUK2 se sepie, 7de Laan.
Talle Graaff-Reinetters het by Profcon byeen gekom om 'n heerlike ete te geniet terwyl Van Pletzen hul met interresante staaljies en grappies oor sy lewe as Christen-gelowige en 'agter die skerms van 7de Laan'-stories vermaak het.
Sandra Vaughn, 'n voormalige mede-akteur, met wie Van Pletzen reeds vir 21 jaar getroud is, het ook die aand meegemaak.
Gaste het toe die geleentheid gehad om vrae te stel aan hul geliefde 'Oom Oubaas' waarna 'n gelukkige trekking gehou is en tien pryse oorhandig is
Die organiseerders is verheug met die sukses van die funksie en hoop hulle om binnekort weer so iets te reël.
Die CMR bedank graag almal wat die aand moontlik gemaak het hetsy deur borgskappe, donasies of bystand met die reëlings.
Na afloop van die geselligheid het die Van Pletzen-egpaar in die dorp oornag waarna hulle vroeg die volgende oggend na Pretoria terug gekeer het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'