GRAAFF-REINET — Adriaan van Jaarsveld (6) van Laer Volkskool in Graaff-Reinet het sy motocross-loopbaan op 'n hoë noot afgeskop toe hy voor-verlede Saterdag tweede geëindig het in die eerste ronde van die Rover Motorfietsklub in Port-Elizabeth se 2018 motocross-reeks.
Adriaan het onder die 50cc-beginnersklas deelgeneem en het hy homself goed van sy taak gekwyt met sy eerste wedren óóit.
Dié geleentheid het gedien as die uitnodigingsronde van die nasionale motocross-reeks.
Alhoewel die nasionale reeks aan die einde van die maand afskop, beplan Adriaan om nog vir dié jaar slegs aan klubkompetisies deel te neem en hoop hy om dan van volgende jaar af nasionale te begin kompeteer.
Adriaan se liefde vir dié sport het alles begin toe sy pa, Marco, vir hom 'n elektriese Oset-motorfiets op 3-jarige ouderdom gekoop het.
Op 5-jarige ouderdom het hy oorgeskakel na 'n Honda 50cc-fiets, waarmee hy toe aan sy natuurlike talent geskaaf het op 'n baan wat vir hom op Gannaland, die familie-plaas, ingerig is.
Adriaan het intussen vinnig gevorder en ry hy tans 'n KTM 50cc SX.
Met die tweede plek wat Adriaan verlede naweek vir homself losgejaag het, het hy van die staanspoor af gewys dat daar nog 'n goeie toekoms vir hom in dié sportsoort wag.
Adriaan sal op 24 Maart aan sy volgende klub-wedren in Port-Elizabeth deelneem.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'