SUID-KAAP NUUS - Die eerste Kango Agri Expo wat Dinsdag by Schoemanshoek aangebied is was volgens die organiseerders 'n groot sukses en die begin van 'n nuwe generasie van inligting-uitruil in die Klein-Karoo.
Die gesamentlike inisiatief van die Kangovalleie Boerevereniging en Klein Karoo Agri het binne ses weke van beplanning altesaam 46 produk- en diensverskaffer uitstallers gelok wat hul stalletjies op die NG kerkterrein by Schoemanshoek opgeslaan het.
"Elke uitstaller wat ons genader het, was positief: dit bewys dat produk- en diensverskaffers 'n behoefte daaraan het om hul produkte, diens en kennis met die boere te deel," sê Chris Botha, voorsitter van dié boerevereniging.
Hoofspreker Francois van der Merwe, voorsitter van die Tabakinstituut van Suid-Afrika (TISA), het in sy boodskap, "Die tabakbedryf: is die aanslae geregverdig" nasionale en internasionale owerhede bygekom oor sinnelose aksie teen die bedryf.
"Daar is min bedrywe wat só onder druk is, maar boere is besigheidsmense wat met respek behandel moet word en tabakprodusente hoef nie skaam te wees nie – jy maak 'n lewe op 'n ordentlike en eerbare manier."
Jaco Malan, besturende direkteur van Universal Leaf SA, die grootste tabakprodusent en -verwerker van lugdroogtabak in die land, het in sy boodskap die lewenskragtigheid van die tabakbedryf veral in die bedieningsgebied van die Kangovalleie Boerevereniging onderstreep.
Olivier Duval en Henry Hoek, die Suid-Afrikaanse verteenwoordigers van die Franse maatskappy Roullier/Timac Agro, het meer vertel oor nuwe-generasie bemesting.
"Dit berus op beter benutting van bemesting om enersyds plantegroei te stimuleer, en ook weerstand teen plantstres (veroorsaak deur droogte, hitte en koue) te verminder."
Jaco van Deventer, CapeNature se programbestuurder: Wildbedryf, het wetgewing rakende die snelgroeiende wildbedryf toegelig en gesê wetgewing word nie neergelê om die bedryf aan bande te lê nie, maar om die streek se unieke biodiversiteit met betrekking tot plante en diere te beskerm.
Dieregesondheid was ook hoog op die agenda met sprekers wat oor vitamien- en mineraalaanvullings, voerkwaliteit en die impak van mikotoksiene op dieregesondheid, en inwendige para-siete gepraat het.
MSD Dieregesondheid se veearts, dr Tom Strydom, bygestaan deur Deon van Emmenis en Frikkie Myburgh, het 'n outopsie gedoen op 'n dragtige ooi wat van bloedderm gevrek het.
Meer as 30 gr.10-leerders van Hoërskool Calitzdorp het saam met hul landboutegnologie-onderwyser, Gerrit Huysamen, 'n draadspankursus bygewoon.
ARTIKEL & FOTO: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Hessequa, Graaff-Reinet, Tuinroete nuus'