ABERDEEN NUUS — Die Nasionale Skaapskeer en Wolhanterings-kampioenskappe is vanjaar van 26 tot 28 April tydens die Bloemskou aangebied.
Die wolhanteerders en skeerders verbonde aan Husky’s Skeerdiens - wat sedert 2013 deur Chris (Husky) Esterhuizen in Aberdeen en omgewing bedryf word - het hieraan deelgeneem en groot welslae behaal.
Die wolhanteerders is op grond van hul spoed, hantering van vagte en korrekte wolklassering beoordeel, terwyl die skeerders in kategorieë vir masjienskeer gekompeteer het, waar hul spoed en die kwaliteit van hul skeerwerk in hul guns getel het.
“Hoewel skeerders normaalweg op die plaas bloot ‘n werk verrig, is die omstandighede in dié kompetisie baie anders, dit is dán ‘n hoogs kompeterende sport en baie opwindend,” sê Esterhuizen.
Die mededingers van Husky’s Skeerdiens het in die kontrakteurs-afloskompetisie (waar drie skeerders van die span elk twee skape skeer) derde geëindig en in die kontrakteurs-spankompetisie (waar twee skeerders elk twee skape skeer en die span se twee wolhanteerders die vagte dan verwerk) tweede geëindig.
Skeerder Swannie Heinse het algeheel vierde geëindig in die SA Masjienskeer-finaal, sesde in die SA Ope Masjienskeer-finaal en het ook die prys gewen vir die skeerder wat die hoogste kwaliteit skeerwerk gelewer het.
Wolhanteerder John Khateane het tweede plek by die Junior Wolhantering-finaal behaal.
Jaques Esterhuizen (Hoër Landbouskool Marlow) het vierde plek by die Interskole skeer-finaal behaal.
Die mededingers van Husky’s Skeerdiens het algeheel tweede geëindig en in die kontrakteurs-spankompetisie (waar twee skeerders elk twee skape skeer en die span se twee wolhanteerders die vagte dan verwerk).
Die span van Husky’s Skeerdiens: John Khateane, Jaques Esterhuizen, Chris (Husky) Esterhuizen, Gerrit Vaaltuin en Swannie Heinse.
Chris (Husky) Esterhuizen in aksie tydens die Kontrakteurs-afloskompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'