SUID-KAAP NUUS - In landboukringe is daar die afgelope ruk gegis oor die voortbestaan van die Agri Megaweek wat jaarliks in Bredasdorp aangebied word.
Die bestuur van Agri Magaweek het egter bevestig dat vanjaar se week, wat die 25ste een is, voortgaan en word van Woensdag 13 tot Saterdag 16 September by Megapark, Bredasdorp aangebied.
Gerugte het die ronde gedoen het Agri Mega-week gekanselleer is nadat 'n saak in die Bre-dasdorp-landdroshof teen Orton King, uitvoerende direkteur van die Mega Groep, aanhangig gemaak is.
"Ten eerste wil ek u die versekering gee dat ek oortuig is van my onskuld én begerig is dat die reg so gou moontlik sy loop neem," het King in 'n verklaring gesê.
"Ten tweede wil ek, as uitvoerende direkteur van die Mega Groep, u daarvan verseker dat hierdie aangeleentheid in ons eie geledere hoegenaamd geen invloed op enige van ons projekte sal hê nie. Ek, my personeel en ons medewer-kers gaan volstoom voort om aan ons kliënte die beste moontlike diens en produkte te lewer."
Dié landbou-ekspo het in 1992 as 'n meganisasiedag ontstaan het met die doel om tegnologie aan boere bekend te stel. Dit het gegroei totdat dit in die huidige formaat een van die grootste landbou-uitstallings in Suidelike Afrika, asook 'n toonaangewende landbou-besigheidsforum vir die hele kontinent is.
Vanjaar se ekspo, wat vermaak vir alle ouderdomme bied, sal onder meer as forum dien vir die bekendstelling van nuwe landbouprodukte, die oordrag van inligting oor die jongste ontwikkeling op landbougebied, die bespreking van aktuele kwessies wat die landbou raak, vroue se rol in landbou en plaaswerkers se bydrae tot die bedryf.
Onderwerpe wat vir kommersiële boere van belang sal wees word in besprekings- en inligtingsessies deur kundiges aan die orde gestel en sluit onder meer in die verantwoordbare gebruik en bestuur van skaars hulpbronne soos water, asook 'n werkbare teenstrategie vir plaasmoorde. Daar word ook 'n interaktiewe program en trekkerbestuurkompetisie vir plaaswerkers beplan.
Vir meer inligting oor die verskillende aanbiedinge op vanjaar se program kan navrae gerig word aan Mega Events by 021 863 1803 of 028 424 2890.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'