Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Enigeen opsoek na 'n uitmuntende balans tussen komedie en kabaret kon maar net Saterdagaand by die NG Kerk se Te Watersaal ingeloer het.
Dáár het die talentvolle duo DisNellas, of te wel Cornelle Carstens en Petronel Baard, die gehoor bederf met hul dinamiese teenwoordigheid.
Baard het die gehoor op die punte van hul stoele gehad met haar stories uit die verlede. Sy het ook getoor op die klawerbord, en die saal het vinnig tjoepstil geword toe sy begin sing. Sy het, onder andere, een van haar eie liedjies gesing. Dit sal later vanjaar vrygestel sal word.
Tussendeur Baard se optredes het Carstens verkleurmannetjie gespeel, en drie uitstekende rolle vertolk.
'n Gunsteling onder die gehoor was Aunt Ethel, wat 'n nuwe blik op ou gunstelinge uit die FAK gegee het. Hierdeur het Carsten bewys dat haar talente nie tot komedie beperk is nie, en sy het Baard se pragtige sang goed aangevul.
Inwoners wat nie dié aand bygewoon het nie, het iets besonders misgeloop. Die optrede was boonop vir 'n goeie doel, want kaartjie-verkope het aan die NG Kerk se Christelike Maatskaplike Raad gegaan. Spyt jy was nie daar nie? Volg DisNellas op hul Facebook-blad, en hou duimvas dat hulle gou weer Karoo toe kom.
Kyk 'n video hieronder.
Cornelle Carstens.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'