GRAAFF-REINET NUUS - Op 4 April tree Jennifer Zamudio by Pioneers Restaurant in Somersetstraat, Graaff-Reinet, op.
Op die verhoog is dié sangeres ‘n onbeskryflike bondel energie en met haar natuurlike aanvoeling vir vermaak kry sy vinnig ‘n gehoor in die palm van haar hand.
Haar spontane “weskus-humor” en gemak laat menige konsertganger skater van plesier terwyl hulle maar net nie kan stil sit in een van haar vertonings nie.
Jennifer het haarself goed in die musiekbedryf gevestig as sanger, liedjieskrywer en Compére (MC), en net soos wat sy daarvan hou om musiek met lekker woema te sing, is sy self gaande oor haar ernstige emosionele ballades, wat altyd haar kenmerkende alt stem tot sy volle reg laat kom. Jennifer is “verlief op die lewe” en dit word beklemtoon in alles wat sy doen en aanpak.
Haar energie is verseker aanvoelbaar en aansteeklik.
Kaartjies vir die vertoning is slegs R100 per persoon.
’n Kontantkroeg sal beskikbaar wees op die aand.
Bespreek vandag nog by 049 892 6059, 084 433 0612 of 084 515 1021.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'