GRAAFF-REINET NUUS — Die organiseerders van die Karoo-lusfees het onlangs die kunstenaars bekend gemaak wat tydens vanjaar se konsert op die verhoog gaan optree en dis omtrent 'n ster-belaaide program.
Vanjaar se fees vind plaas op 29 en 30 September by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet en beloof om weereens die Karoo op horings te neem met 'n vol program van vermaak, die land se beste kunstenaars, talle stalletjies en opwindende speelritte.
Die groot geeste in die Afrikaanse musiekbedryf wat hul opwagting sal maak vir dié jaarlikse skouspel, sluit bekende sangers soos Robbie Wessels, Adam en Refentse in.
Vanjaar sal 4Werke, Richard Sturton, Franja du Plessis en Mwah! ook hul debuut by die fees maak, terwyl kunstenaars soos Dr Victor and the Rusta Rebels, die Kaapse Affodille en Corlea Botha ook die gehoor sal vermaak.
Een van die fees se organiseerders, Bronwen Jacobs, noem dat die voorbereiding vir die fees goed vorder.
“Voorbereiding vir die fees loop besonder goed. Ons is baie opgewonde oor die kunstenaars wat die fees gaan bywoon,” sê Jacobs.
Jacobs het ook genoem dat die fees, wat in die 2014 deur hoofborge Montego Pet Nutrition, Octofin en die Botaniese Sportklub as liefdadigheid- en bemarkingprojek oorgeneem is, net beter en beter word by die jaar.
Die toegangsfooi tot die fees bly onveranderd en sal al die kunstenaars teen 2016 se pryse (slegs R70 per persoon per dag en R40 vir kinders onder die ouderdom van 12) gesien kan word. Naweekkaartjies sal beskikbaar wees teen R130 per persoon of R90 per kind. Toegang vir kinders onder die ouderdom van 3 is soos gewoonlik, gratis.
Besoek die fees se webwerf by www.karoolus.co.za.
Die organiseerders van die Karoo-lusfees het onlangs die kunstenaars bekend gemaak wat tydens vanjaar se konsert op die verhoog gaan optree en dis omtrent 'n ster-belaaide program.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'