SUID-KAAP NUUS - “Verskeidenheid, waarde vir geld en meer uitvoerings is aan die bod in die negende uitgawe van Klein Karoo Klassique, wat van Vrydag, 11 tot Sondag, 13 Augustus aangebied word,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, wat hierdie fees op Oudtshoorn aanbied.
“Danksy finansiële ondersteuning van die Rupert Musiekstigting is dit vir ons moontlik om kaartjiepryse dieselfde as in 2016 te hou én om vanjaar agt, teenoor verlede jaar se sewe, uitvoerings aan te bied,” sê Snyman.
“Kaartjies is van Vrydag, 5 Mei beskikbaar en feesgangers moet gou speel om die winskoop pakket, wat altyd blitsvinnig uitverkoop, te bekom. Dié pakket van R700 bied toegang tot al agt uitvoerings, teen ’n gemiddelde prys van R87,50 per uitvoering. Sou kaartjies na uitvoerings apart gekoop word, sal dit R1,000 kos. Die pakket bied ’n stewige besparing van R300,” sê sy.
Die negende Klassique skop af met die dubbel SAMA-bekroonde kitaarduo, CH2 (Corneille Hutten en Dirkie van Staden). Hulle speel klassieke meesterstukke van Tárrega, Rodrigo, Bach, hul eie flamenco-styl komposisies en ook verwerkings van Afrikaanse treffers soos Tussen treine en Vyfster.
Saterdag se program begin met Vivaldi se Vier Seisoene Herbesoek. Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag) verwerk Vivaldi se tydlose meesterstuk, sonder bystand van ’n strykorkes, waarvoor dit oorspronklik gekomponeer is. Die sonnette is spesiaal deur dr. Dawid de Villiers uit Italiaans in Afrikaans vertaal.
Daarna speel die Camerata Tinta Barocca met Bridget Rennie-Salonen (traverso), Jesse Groenewald (barokviool), Uwe Grosser (teorbe en barokkitaar), Cheryl de Havilland (baroktjello) en Erik Dippenaar (spinet) ’n program van barokmusiek. Folk Baroque word uitgevoer op outentieke barokinstrumente en sluit musiek van Barsanti, Geminiani, Scarlatti en Gow in.
In Alleenstryd bring Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Jolene McCleland (mezzo-sopraan), José Dias (klavier) en Visser Liebenberg (klarinet) hulde aan Hendrik Hofmeyr, wat vanjaar 60 word. Die samestelling en voordrag word deur Niël Rademan behartig. Hofmeyr maak ’n gasoptrede. Alleenstryd bied ’n klein blik op die vokale komposisies van dié musikale reus.
Saterdag se program word afgesluit met Carmen – in die kleine, ’n konsertweergawe van een van die gewildste operas in die klassieke kanon, spesiaal vir Klassique gereduseer tot ’n uurlange werk, sonder om die integriteit van die oorspronklike stuk in te boet. Al die hoogtepunte word chronologies voorgedra met sangers wat meer as een rol vertolk.
Op die verhoog is Jolene McCleland (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Chris Mostert (tenoor), Niël Rademan (bariton) en Raimondo van Staden (bariton). José Dias behartig die klavierbegeleiding.
In Spieël-dans in die maanlig, Sondagoggend, kombineer Jana van der Walt (harp) en Rina Schutte (tjello) twee gunsteling instrumente vir ’n program met uiteenlopende musiek. Hulle speel onder meer Pärt se Spiegel im Spiegel, Piazzolla se
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'