Video
MURRAYSBURG NUUS EN VIDEO - Jan-Hendrik Swiegers (36) dra vele hoede, van hegte gesinsman, eiendomsontwikkelaar en entrepreneur, tot 'n kampvegter vir die klein dorpie van Murraysburg en nou dié van musikant.
Jan-Hendrik het ‘n passie vir die Karoo.
Jy hoor dit in sy manier van praat oor dié streek en sy mense en jy sien dit in die dinge waarmee hy homself besig hou.
Tans 'n inwoner van die Paarl, is hy oorspronklik afkomstig van Murraysburg waar hy sy kinderjare spandeer het - die seun van Estelle en wyle Gert Swiegers.
Jan-Hendrik het onlangs die jaar 'n lied, wat hy self geskryf en gekomponeer het, laat opneem en 'n musiekvideo daaroor in die Murraysburg-omgewing laat verfilm.
Sy liefde vir Murraysburg - sy grootword dorp - is inherent deel van wie hy is. Die lied 'Murraysburg' dra getuienis hiervan.
Kyk die video hieronder.
Alhoewel die lied spesifiek oor die dorpie Murraysburg gaan, meen Jan-Hendrik egter dat die lied vir elke Suid-Afrikaner, wat al ooit trots gevoel het oor sy herkoms, geskryf is.
"Dit is vir elke Suid-Afrikaner bedoel wat al ooit empatie gehad het met boere en die swaar tye waar deur hul dikwels moet gaan asook vir elke Suid-Afrikaner vir wie dit belangrik is om deel te wees van 'n hegte gemeenskap", sê Jan-Hendrik.
Die liedjie, wat al amper 72 000 keer op Youtube en Facebook gekyk is, is geloof deur gesoute Afrikaanse sangers, soos Jannie du Toit, wat dit "uiters smaakvol en mooi" beskryf het.
Die lied het ook Murraysburgers self se hartsnare geroer, en tientalle positiewe kommentare op sosiale media ontlok.
"Jy het so mooi vir Murraysburg vasgevang in jou liedjie. Nie baie mense weet hoe spesiaal ons dorpie is nie. Dis 'n liedjie wat jou siel raak. Jy kon in woorde sit hoe ons almal voel," het Liezl Conradie, 'n inwoner van Murraysburg, laat hoor.
Jan-Hendrik se dryfveer vir die skryf van die liedjie was sy liefde vir dié dorp, die mense en die Karoo.
"Ek wou vir die inwoners van Murraysburg iets gee om op trots te wees, iets wat eie aan die dorp, sy mense en die omgewing is," sê hy.
"Buiten dit, wil ek hê dat my kinders, sowel as elke ander Suid-Afrikaner moet weet van hierdie ongelooflike dorpie, wat dit als bied, en watter spesiale gemeenskap dit is. Die lied is my manier om dit uit te basuin vir die wêreld."
Met Jan-Hendrik se pa se afsterwe in 2010, is hul huis in Murraysburg, waar hy saam met sy ouers en drie susters grootgeword het, aan die familie nagelaat.
Die familie het besluit om die gedenkwaardige huis te restoureer en dit dan as vakansiehuis in te span. "Ons het dit gedoen sodat ons kinders, wat in die stede woon, die skoonheid van die Karoo kan ervaar en kan leer om dit te waardeer," sê Jan-Hendrik.
Dit is nou elke jaar die familie se vakansiebestemming oor Desember.
Dié huis - die einste een in Voorstrekkerstraat waar Jan-Hendrik op die stoep verlede Desember die Murraysburg-lied sit en skryf het - is ook in die musiekvideo te sien.
Bekende gesigte in die plaaslike gemeenskap wat in die video te sien is, sluit Jan-Hendrik se skattige kinders Karien en Christiaan en sy pragtige vrou Michelle in. Sy boesemvriend Sybrand Swanepoel, wat in Voortrekkerstraat langs hom grootgeword het, maak ook 'n verskyning, asook Jos en Josias Cloete van die De Vlei-boerdery, Jannie, Willem Schalk en Shirley Pienaar van Rooipoort-boerdery, Kay's Kafee se Paul en Jeanette Avenant en Philip Maasdorp en Louw Kruger wat as ruiters ingetree het.
Jan-Hendrik Swiegers, die skrywer van die lied 'Murraysburg'. Chris Barr en sy eggenoot Jenny het hul huis en voertuie beskikbaar gestel vir die maak van die video, so ook die perde van William Biggs van Vleiplaats Boerdery, en Percy Reynolds se populierbos op Grootdriefontein-boerdery waar die Stilfees jaarliks gehou word.
"Ek is nie 'n professionele musikant of sanger nie," meen Jan-Hendrik, "maar ek hoop dat die liedjie mense sal inspireer om die dorpie te besoek. Murraysburg het 'n mooi van sy eie. Die landskap, die mense, die eenvoud, die stories, die sterre. Daar is vir my 'n hartlikheid en gasvryheid aan die wêreld wat jy nêrens anders kry nie." sê Jan-Hendrik.
Hy voer aan, "Ek wil so graag klein dorpies in die Karoo, soos Murraysburg, bevorder deur dit onder die mense van Suid-Afrika se aandag te bring hoeveel die platteland en die Karoo te bied het. Murraysburg is een van daardie dorpies waar die individu nog saakmaak, 'n plek waar mens nog 'n wonderlike 'plaas'-leefstyl kan geniet - in rus en vrede, en dit in 'n bekostigbare huis!"
Alhoewel Jan-Hendrik homself nie as 'n professionele musikant ag nie, het sy passie vir die maak van musiek wel die oorhand gekry en is Jan-Hendrik reeds nou besig met die opname van 'n nuwe lied uit sy pen. Hy sal ook binnekort by 'n Heuwels Fantasties-konsert in die Paarl 'n voorskou speel.
Volg Jan-Hendrik gerus op sy Facebook-blad.
'Ons bring jou die nuutste Murraysburg, Karoo nuus'