ROBERT SOBUKWE DORP NUUS - Ná meer as drie dekades van toegewyde diens aan Hoër Volkskool Graaff-Reinet, het Neil Schreuder ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan betree: hy is aangestel as die nuwe skoolhoof van Gill College in Somerset-Oos.
Gill College het die aankondiging met groot trots gemaak en beklemtoon dat Schreuder se 35 jaar ervaring, sy passie vir onderwys en sy toewyding aan jongmense, hom die ideale leier maak om die skool na nuwe hoogtes te neem.
“Ons glo die toekoms van Gill College is veilig en helder onder sy leiding,” het die skool in hul verklaring gesê.
By Volkskool was die afskeid emosioneel.
Sedert 1991 was Schreuder die pilaar van die skoolgemeenskap - van langs die rugbyveld waar hy met trots en passie ondersteun het tot in die klaskamer waar hy gevorm en geïnspireer het.
Die skool beskryf hom as iemand wat oral deel van die Volkskool-lewe was en nie net sy tyd gegee het nie, maar ook homself.
Sy nalatenskap laat diep spore.
“Met dankbaarheid en trots wens ons hom geluk met sy aanstelling as hoof van Gill College.
Dit is ’n welverdiende nuwe hoofstuk, en ons weet hy gaan daar dieselfde verskil maak as wat hy hier gemaak het,” het Volkskool in hul huldeblyk gesê.
Hoewel die Volkskool-gemeenskap hom gaan mis, is die boodskap duidelik: dit is nie ’n finale totsiens nie.
Schreuder se bande met Graaff-Reinet bly sterk, en sy voormalige kollegas en leerders sien uit om hom weer langs die rugbyveld of tydens ’n kuier in Somerset-Oos raak te loop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’