NIEU-BETHESDA NUUS - Harold Athol Lanigan Fugard (92) (11 Junie 1932 - 8 Maart 2025), die wêreldbekende dramaturg, skrywer, akteur en regisseur, is in Middelburg, Oos-Kaap, aan ’n Engelse pa en Afrikaanse ma gebore.
Volgens skrywer Darryl Earl David, ’n vriend van hom, was dit Fugard se laaste wens om op Nieu-Bethesda ter ruste gelê te word.
Idil Sheard, ’n afgetrede onderwyser, ’n vertaler van van Fugard se werke en tans ’n inwoner van Nieu-Bethesda, sê Fugard het ’n besondere sterk band met dié nedersetting gehad.
Sy The Road to Mecca is van 2009 tot 2011 vyf keer hier opgevoer, en plaaslike talent is daarby ingetrek. Dit het ’n herlewing in Nieu-Bethesda teweeggebring, wat tot vandag toe nog toeriste trek.
Hierdie reus uit ons midde, Fugard, is in 2011 in New York met ’n Tony-toekenning vir sy lewenswerk vereer.
Die 2005-rolprent Tsotsi, verwerk en geproduseer deur Gavin Hood, gebaseer op Fugard se gelyknamige roman, is met ’n Oscar bekroon. In 2005 word Fugard met die Orde van Ikhamanga (silwer) vereer.
In 2010 word hy tydens die opening van die Fugard-teater in Distrik Ses vereer, wat hy in sy toespraak gesê het vir hom ’n massiewe voorreg was.
Toneelstukke deur Fugard is dwarsoor die wêreld beskikbaar gemaak, waaronder Hello and Goodbye (1965), People Are Living There (1968), Boesman en Lena (1969), Sizwe Banzi is Dead (1972), A Lesson from Aloes (1978) en “Master Harold”...and the Boys (1982).
The Road to Mecca (1984) word nou vanaf 26 tot 28 Maart in Bloemfontein opgevoer, met Niel van Niekerk as regisseur.
Die datum van die begrafnis is nog nie bekend nie.
Athol Fugard se ‘The Road to Mecca’, wat handel oor die bekende Uilhuis in Nieu-Bethesda. Foto: van internet
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’