RUBRIEK - Oom Klaas vra my oor my ervaring van die mense en die plek waarheen ons verhuis het: "Jy is mos darem nou al verby eerste indrukke – het hulle blywend geword, of het jou mening verander?"
Ek antwoord dat dit 'n gemengde ervaring is: party eerste indrukke is blywend, ja. Party eerste indrukke was ietwat pessimisties, maar het intussen suiwer positief geword.
En natuurlik, soos dit maar gaan, is daar 'n paar eerste indrukke wat doodgewoon totaal misleidend vals positief was; moet ek bieg tot my skaamte ... en hier en daar skade en skande ook.
Oom Klaas mymer: "Mmmm, hoe duideliker die kiekie, hoe donkerder die negatief..."
"Vanmelewe, in die jare toe ek ook nog so nou en dan 'n kamera sou opneem om 'n oomblik in tyd te verewig, het dinge anderste gewerk as vandag. Vandag is mos die era van kitsbevrediging. Alles moes al netnou gebeur het. Maar in die voortyd waar ek vandaan kom, het jy, as 'n luukse, 'n filmpie ten duurste gekoop en die kamera is net vir werklik spesiale oomblikke uitgehaal. So, 'n man het sommer baie keer gemik, maar uiteindelik maar min gedruk. En dan, wanneer die filmpie nou uiteindelik vol is, dan het jy dit per pos weggestuur of, as jou dorp se apteek nou sommer 'n ordentlike apteek was, het jy dit by die apteek ingegee.
"Dan, op 'n dag, hier uit die bloute, het die pakkie kiekies deur die pos gekom of die apteek het laat weet. Saam met die kiekies het die negatiewe gekom. En eers dán het 'n man gesien watter oomblikke wat jy as mooi en duidelik wou vasvang, wel so ontwikkel het. En slag-slag kon jy maar kyk: die mooiste, duidelikste kiekies se ooreenstemmende negatiewe was die donkerste. Ander kiekies sou minder duidelik, of dalk sommer heeltemal onduidelik, wees. Hulle negatiewe sou ook wys hoekom hulle lyk soos hulle lyk: vaal ... oënskynlik regtig niks om oor huis toe te skryf nie. Maar duidelik of onduidelik; kleurvol of vaal – jy het jouse pakkie kiekies gekry en elke kiekie het sy eie negatief gehad.
"Nou kyk maar om jou rond: dikwels is mense of hulle lewens soos 'n kiekie en sy negatief. Hoe ligter die mens se sonkant-persoonlikheid; hoe donkerder sy skadukant. Hoe besiger, glansryker of opwindender iemand se lewe is; hoe donkerder die verhaal om daardie glans of opwinding te bekom of te handhaaf.
"Partykeer raak ons so verlore in die eerste indrukke – soos met die gehalte van 'n kiekie. Die kleurvolheid val ons op voordat ons die werklike inhoud raaksien en waardeer. Die teendeel is ook waar: die vaalheid van die kiekie sit ons so af, dat ons die inhoud mis. Dis maar 'n geval van kyk en kyk weer.
"Wat saak maak, is om in jou pakkie kiekies te kies watter hou jy werklik van; watter is die kiekies wat jy met jou wil saamdra. Hou dáárdie mét hulle negatiewe naby aan jou en laat vaar die res ... of sit hulle eenkant in 'n album."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’